Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 8:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. AL die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die Here aan julle vaders met ’n eed beloof het.

2. En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.

3. En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.

4. Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie.

5. Erken dan in jou hart dat die Here jou God jou onderrig soos ’n man sy seun onderrig,

6. en hou die gebooie van die Here jou God om in sy weë te wandel en Hom te vrees.

7. Want die Here jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom;

8. ’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ’n land van olieryke olyfbome en heuning;

9. ’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ’n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap;

10. en jy sal eet en versadig word en die Here jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het.

11. Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie;

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 8