Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 5:9-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;

10. en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

11. Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

12. Onderhou die sabbatdag, dat jy dit heilig soos die Here jou God jou beveel het.

13. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;

14. maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy.

15. En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ’n slaaf was, en die Here jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm; daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.

16. Eer jou vader en jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here jou God aan jou gee.

17. Jy mag nie doodslaan nie.

18. En jy mag nie egbreek nie.

19. En jy mag nie steel nie.

20. En jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

21. En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie — na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 5