Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 33:9-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. wat van sy vader en sy moeder gesê het: Ek sien hom nie, en sy broers nie erken het en van sy seuns niks geweet het nie; want hulle het u woord bewaar en u verbond gehou.

10. Hulle sal Jakob u verordeninge leer en Israel u wet; hulle sal reukwerk voor U neerlê en ’n voloffer op u altaar.

11. Seën, Here, sy krag, en laat die werk van sy hande U welgevallig wees; verpletter die lendene van die wat teen hom opstaan en hom haat, sodat hulle nie kan opstaan nie.

12. Van Benjamin het hy gesê: Die beminde van die Here — hy sal veilig by Hom woon; Hy beskerm hom die hele dag en woon tussen sy berghange.

13. En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die Here is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê,

14. en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane

15. en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels

16. en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het — laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers.

17. Sy eersgebore stier — heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tienduisende van Efraim, en dit is die duisende van Manasse!

18. En van Sébulon het hy gesê: Verheug jou, Sébulon, oor jou togte, en Íssaskar, oor jou tente.

19. Hulle sal volke na die berg roep; daar sal hulle offers van geregtigheid offer; want hulle sal die oorvloed van die see insuig en die verborgenste skatte van die sand.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 33