Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 33:19-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Hulle sal volke na die berg roep; daar sal hulle offers van geregtigheid offer; want hulle sal die oorvloed van die see insuig en die verborgenste skatte van die sand.

20. En van Gad het hy gesê: Geseënd is Hy wat vir Gad ruimte maak; hy gaan lê soos ’n leeuin en verskeur die arm, ja, die hoofskedel.

21. En hy het vir hom ’n eerstelingsaandeel uitgekies, want daar was die deel van ’n veldheer bewaar; en hy het gekom na die hoofde van die volk, hy het die geregtigheid van die Here uitgevoer en sy verordeninge met Israel.

22. En van Dan het hy gesê: Dan is ’n jong leeu wat uit Basan uitspring.

23. En van Náftali het hy gesê: Náftali, versadig van geluk en vol van die seën van die Here — neem jy see en suidland in besit!

24. En van Aser het hy gesê: Geseënd is Aser bo die seuns; laat hy die liefling van sy broers wees, en een wat sy voet in olie insteek.

25. Mag jou grendel yster en koper wees, en jou sterkte soos jou dae.

26. Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid.

27. Die ewige God is ’n woning, en onder — ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg!

28. So het Israel dan veilig gaan woon, die bron van Jakob in afsondering, in ’n land van koring en mos; ja, sy hemel laat dou afdrup.

29. Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ’n Volk wat deur die Here verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande julle al kruipende aan jou onderwerp; maar jý sal op hulle hoogtes stap.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 33