Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 32:12-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. die Here alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.

13. Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots;

14. dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.

15. Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop — jy het vet geword, dik geword, spekvet geword — en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.

16. Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg.

17. Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.

18. Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.

19. Toe die Here dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters.

20. En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ’n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie.

21. Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ek sal dan hulle ywer wek deur die wat ’n nie-volk is, deur ’n dwase nasie sal Ek hulle terg.

22. Want ’n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek.

23. Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.

24. As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers.

25. Buitekant sal die swaard beroof, en in die binnekamers die verskrikking; die jongman sowel as die jongedogter, die suigling saam met die grysaard.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 32