Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 28:45-59 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

45. En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie;

46. en hulle sal by jou ’n teken en ’n wonder wees, en by jou nageslag tot in ewigheid.

47. Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie,

48. sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.

49. Die Here sal teen jou ’n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ’n arend vlieg — ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,

50. ’n nasie hard van aangesig, wat ’n grysaard nie ontsien en vir ’n seun geen genade het nie.

51. En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy verdelg is; wat vir jou geen koring, mos of olie, aanteel van jou beeste of aanteel van jou kleinvee sal laat oorbly totdat hulle jou tot niet gemaak het nie.

52. En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die Here jou God jou gegee het.

53. En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak.

54. Die vertroetelde en baie verwénde man by jou — sy oog sal sy broer en die vrou wat hy liefhet, en sy orige kinders wat hy nog behou het, skeef aankyk;

55. sodat hy aan geeneen van hulle iets sal gee van die vlees van sy kinders wat hy eet nie, omdat daar vir hom niks anders oorgelaat is in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak nie.

56. Die vertroetelde en verwénde vrou by jou wat van verwendheid en weekheid nooit probeer het om haar voetsool op die grond neer te sit nie — haar oog sal die man wat sy liefhet en haar seun en haar dogter skeef aankyk,

57. ook haar nageboorte wat tussen haar voete uitgaan, en haar kinders wat sy sal baar; want sy sal dit stilletjies eet by gebrek aan alles in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak.

58. As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die Here jou God, te vrees nie,

59. dan sal die Here oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes;

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 28