Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 28:34-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. En jy sal kranksinnig wees vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien.

35. Die Here sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene — waarvan jy nie gesond kan word nie — van jou voetsool tot jou skedel.

36. Die Here sal jou en jou koning wat jy oor jou sal aanstel, na ’n nasie laat gaan wat jy en jou vaders nie geken het nie; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien.

37. En jy sal ’n voorwerp van verbasing, ’n spreekwoord en ’n spot wees onder al die volke waarheen die Here jou sal wegvoer.

38. Jy sal baie saad op die land uitbring, maar min insamel; want die sprinkaan sal dit afeet.

39. Wingerde sal jy plant en bewerk maar geen wyn drink of wegbêre nie; want die wurm sal dit opeet.

40. Olyfbome sal jy hê in jou hele grondgebied, maar jy sal jou nie met olie salf nie; want jou olywe sal afval.

41. Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal vir jou nie wees nie; want hulle sal in gevangenskap gaan.

42. Al jou bome en die vrugte van jou land sal die sprinkaan in besit neem.

43. Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak.

44. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees.

45. En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie;

46. en hulle sal by jou ’n teken en ’n wonder wees, en by jou nageslag tot in ewigheid.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 28