Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 23:7-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Die Edomiet moet jy nie as ’n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ’n gruwel beskou nie, want jy was ’n vreemdeling in sy land.

8. Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van die Here kom.

9. WANNEER jy as leër teen jou vyande uittrek, pas dan op vir enigiets wat verkeerd is.

10. As daar iemand by jou is wat weens ’n voorval by nag nie rein is nie, moet hy buitekant die laer uitgaan; hy mag nie in die laer inkom nie.

11. Maar as die aand aankom, moet hy hom in die water bad; en teen sonsondergang mag hy in die laer inkom.

12. Jy moet buitekant die laer ’n plek hê, en daarheen moet jy uitgaan.

13. En jy moet by jou gereedskap ’n grafie hê; as jy dan buitekant gaan sit, moet jy daarmee grawe en wat van jou uitgegaan het, weer toemaak.

14. Want die Here jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie.

15. JY mag ’n slaaf wat van sy heer na jou ontsnap het, nie aan sy heer oorlewer nie.

16. Hy moet by jou bly, in jou midde, in die plek wat hy in een van jou poorte uitkies, waar dit vir hom goed is; jy mag hom nie verdruk nie.

17. Daar mag geen hoer uit die dogters van Israel wees nie; en daar mag geen skandseun uit die seuns van Israel wees nie.

18. Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van die Here jou God as enige gelofte offer bring nie; want dié altwee is vir die Here jou God ’n gruwel.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 23