Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 20:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. AS jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, ’n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die Here jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou.

2. En as julle na die geveg kom, moet die priester nader kom en die volk toespreek;

3. en hy moet aan hulle sê: Hoor, Israel, julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie;

4. want dit is die Here julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee.

5. Dan moet die opsigters die volk toespreek en sê: Wie is die man wat ’n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie.

6. En wie is die man wat ’n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie.

7. En wie is die man wat hom met ’n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie.

8. Dan moet die opsigters verder die volk toespreek en sê: Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie.

9. En as die opsigters die volk klaar toegespreek het, moet leërowerstes aan die hoof van die volk aangestel word.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 20