Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 15:5-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. as jy net goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al hierdie gebooie wat ek jou vandag beveel.

6. Want die Here jou God seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.

7. AS daar by jou ’n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die Here jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie.

8. Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.

9. Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby — en jou oog dan jou arm broer skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na die Here roep, en dit sonde in jou word.

10. Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal die Here jou God jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan.

11. Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.

12. As jou broer, ’n Hebreeuse man of ’n Hebreeuse vrou, hom aan jou verkoop, moet hy jou ses jaar lank dien; maar in die sewende jaar moet jy hom as vryman van jou laat weggaan.

13. En as jy hom as vryman van jou laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande laat weggaan nie.

14. Jy moet hom ’n behoorlike voorraad saamgee van jou kleinvee en jou dorsvloer en jou wynpers; waarin die Here jou God jou geseën het, daarvan moet jy aan hom gee.

15. En jy moet daaraan dink dat jy ’n slaaf in Egipteland was, en dat die Here jou God jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 15