Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 10:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Maar die Here het vir my gesê: Staan op, gaan heen om voor die volk uit verder te trek, dat hulle kan inkom en die land in besit neem wat Ek aan hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee.

12. En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel,

13. om te hou die gebooie van die Here en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?

14. Kyk, aan die Here jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.

15. Maar net aan jou vaders het die Here ’n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is.

16. Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.

17. Want die Here julle God is die God van die gode en die Here van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie;

18. wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee.

19. Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland.

20. Die Here jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en by sy Naam sweer.

21. Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het.

22. Sewentig siele sterk het jou vaders na Egipte afgetrek, maar nou het die Here jou God jou gemaak soos die sterre van die hemel in menigte.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 10