Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronómium 1:24-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken.

25. Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die Here onse God aan ons sal gee, is goed.

26. Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die Here julle God.

27. En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg.

28. Waarheen moet ons optrek? Ons broers het ons hart laat versmelt deur te sê: Dit is ’n volk groter en hoër van gestalte as ons; die stede is groot en tot aan die hemel versterk; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.

29. Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie.

30. Die Here julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het

31. en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here jou God jou gedra het soos ’n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het.

32. Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die Here julle God nie,

33. wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ’n plek uit te soek om julle laer op te slaan, snags in die vuur om julle te laat sien op die pad waar julle langs moes trek, en bedags in die wolk.

34. En toe die Here die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê:

35. Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met ’n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie —

36. behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne; hy sal dit sien, en aan hom en sy kinders sal Ek die land gee waarop hy geloop het, omdat hy volhard het om die Here te volg.

Lees volledige hoofstuk Deuteronómium 1