Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9:17-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê.

18. Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid.

19. Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.

20. Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die Here my God neerwerp, ter wille van die heilige berg van my God,

21. terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ’n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer.

22. En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee.

23. By die begin van jou smekinge het ’n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ’n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.

24. Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.

25. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.

26. En ná die twee-en-sestig sewetalle sal ’n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ’n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ’n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.

27. En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

Lees volledige hoofstuk Daniël 9