Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:40-49 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

40. en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.

41. En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was — dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het.

42. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is — ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees.

43. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het — hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.

44. Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan —

45. net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.

46. Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee om aan hom ’n spysoffer en reukoffers te bring.

47. Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.

48. Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel.

49. En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2