Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:35-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

35. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.

36. Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê:

37. U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het,

38. en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het — ú is die hoof van goud.

39. En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers;

40. en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.

41. En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was — dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het.

42. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is — ’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2