Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11:16-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is.

17. En hy sal sy aangesig daarop rig om met die sterkte van sy hele koninkryk te kom, maar hy sal met hom vrede sluit; en hy sal vir hom ’n jongedogter gee om die land te gronde te rig. Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks vir hom wees nie.

18. Daarna sal hy sy aangesig wend na die kuslande en baie daarvan verower; maar ’n aanvoerder sal aan sy gesmaad ’n einde maak, ja, hy sal sy gesmaad op homself laat terugval.

19. Dan sal hy sy aangesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel en val en nie meer gevind word nie.

20. En in sy plek sal iemand optree wat ’n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek, maar binne enkele dae sal hy verbreek word, maar nie deur toorn of deur oorlog nie.

21. Daarna sal ’n veragtelike in sy plek optree op wie geen koninklike waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig.

22. En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond.

23. Want sodra ’n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe sterk word.

Lees volledige hoofstuk Daniël 11