Ou Testament

Nuwe Testament

Amos 9:6-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Dit is Hy wat sy solders in die hemele bou en sy hemelgewelf bo die aarde vestig, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die aardbodem, Here is sy Naam!

7. Is julle nie vir My soos die kinders van Kus nie, o kinders van Israel? spreek die Here. Het Ek Israel nie laat optrek uit Egipteland en die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir nie?

8. Kyk, die oë van die Here Here is gerig teen die sondige koninkryk, en Ek sal dit van die aardbodem verdelg; maar Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie, spreek die Here.

9. Want kyk, Ek gee bevel en sal die huis van Israel onder al die nasies skud soos in ’n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie.

10. Al die sondaars van my volk sal deur die swaard sterwe, die wat sê: Die onheil sal ons nie bereik en ons nie ontmoet nie.

11. In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd;

12. sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat dit doen.

13. Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.

14. En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet.

15. En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God.

Lees volledige hoofstuk Amos 9