Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 24:3-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En Joab het aan die koning gesê: Ja, mag die Here u God by die volk honderd maal meer byvoeg as wat hulle ook al is, en die oë van my heer die koning dit sien; maar waarom het my heer die koning behae in hierdie saak?

4. Maar die woord van die koning het die oorhand gehad oor Joab en die leërowerstes, en Joab het met die leërowerstes van die koning af uitgegaan om die volk Israel te tel.

5. En hulle het deur die Jordaan gegaan en laer opgeslaan by Ároër, regs van die stad wat binne-in die dal van Gad lê, en tot by Jaéser.

6. Verder het hulle in Gílead gekom en in die land Tagtim-Hodsi en na Dan-Jaän gekom en rondom na Sidon.

7. En hulle het gekom by die vesting Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete, en hulle het uitgekom in die suide van Juda in Berséba.

8. So het hulle dan deur die hele land rondgetrek en in Jerusalem aangekom aan die einde van nege maande en twintig dae.

9. En Joab het die getal van die getelde volk aan die koning gegee; en Israel was agthonderdduisend weerbare manne wat die swaard uittrek, en die manne van Juda vyfhonderdduisend man.

10. Maar Dawid se gewete het hom gekwel nadat hy die volk getel het, en Dawid het aan die Here gesê: Ek het swaar gesondig deur wat ek gedoen het; Here, vergeef dan nou tog die skuld van u kneg, want ek het baie dwaas gehandel.

11. Toe Dawid die môre opstaan — die woord van die Here het naamlik tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom en gesê:

12. Gaan heen en spreek met Dawid: So sê die Here: Drie dinge lê Ek jou voor; kies vir jou een daaruit, dat Ek jou dit kan aandoen —

13. toe het Gad by Dawid gekom en dit aan hom bekend gemaak en aan hom gesê: Wil jy dat daar sewe jaar lank hongersnood in jou land kom, of wil jy drie maande lank vlug voor jou teëstanders uit dat hulle jou agtervolg, of moet daar drie dae lank pes wees in jou land? Ondersoek nou en sien watter antwoord ek my Sender moet bring.

14. Daarop sê Dawid vir Gad: Ek is baie benoud; laat ons tog val in die hand van die Here, want sy barmhartighede is groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie.

15. En die Here het ’n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentigduisend man gesterwe.

16. Maar toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om dit te verwoes, het dit die Here berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting onder die volk moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! Die engel van die Here was toe by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.

17. Toe Dawid sien hoe die engel onder die volk doodslaan, het hy tot die Here gespreek en gesê: Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 24