Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 24:16-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Maar toe die engel sy hand uitsteek na Jerusalem om dit te verwoes, het dit die Here berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting onder die volk moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! Die engel van die Here was toe by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.

17. Toe Dawid sien hoe die engel onder die volk doodslaan, het hy tot die Here gespreek en gesê: Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie.

18. Daarop kom Gad dieselfde dag by Dawid en sê vir hom: Gaan op, bou vir die Here ’n altaar op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.

19. En Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad, soos die Here beveel het.

20. Toe Arauna opkyk en die koning met sy dienaars na hom sien oorkom, het Arauna uitgegaan en hom voor die koning met sy aangesig na die aarde gebuig.

21. En Arauna het gesê: Waarom kom my heer die koning na sy dienaar? Daarop sê Dawid: Om die dorsvloer van jou te koop, om vir die Here ’n altaar te bou, sodat die plaag onder die volk kan ophou.

22. Maar Arauna sê vir Dawid: My heer die koning kan neem en offer wat goed is in sy oë, kyk, daar is die beeste as die brandoffer en die sleë en die trekgoed van die beeste as hout.

23. Dit gee Arauna alles, o koning, aan die koning. Verder het Arauna aan die koning gesê: Mag die Here u God ’n behae in u hê.

24. Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan die Here my God brandoffers bring nie. En Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer.

25. Toe het Dawid daar vir die Here ’n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring; en die Here het Hom oor die land ontferm, en die plaag is van Israel afgewend.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 24