Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 22:34-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

34. Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.

35. Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms ’n koperboog span.

36. En U het my die skild van u uitredding gegee, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak.

37. U het my voetstap onder my ruim gemaak, en my enkels het nie gewankel nie.

38. Ek het my vyande agtervolg en hulle verdelg en nie teruggekom voordat ek hulle vernietig het nie.

39. Ja, ek het hulle vernietig en hulle verbrysel, sodat hulle nie weer opgestaan het nie, maar onder my voete geval het.

40. En U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders onder my laat buk.

41. En U het my vyande vir my laat vlug; my haters, dié het ek vernietig.

42. Hulle het rondgekyk, maar daar was geen verlosser nie; na die Here, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.

43. Toe het ek hulle vermaal soos die stof van die aarde, soos modder van die strate het ek hulle fyngemaal, hulle vertrap.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 22