Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 22:1-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Dawid het die woorde van hierdie lied tot die Here gespreek op die dag toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul.

2. En hy het gesê: Die Here is my rots en my bergvesting en my redder;

3. God is my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting en my toevlug, my verlosser; van geweld het U my verlos.

4. Ek roep die Here aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.

5. Want die golwe van die dood het my omring, strome van onheil het my oorval.

6. Bande van die doderyk het my omring, strikke van die dood het my teëgekom.

7. Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het geroep tot my God; en uit sy paleis het Hy my stem gehoor, en my hulpgeroep was in sy ore.

8. Toe het die aarde geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.

9. Rook in sy neus het opgegaan, en ’n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.

10. En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en wolkedonkerheid was onder sy voete.

11. En Hy het op ’n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het verskyn op die vlerke van die wind.

12. En Hy het duisternis rondom Hom as hutte gestel, versameling van waters, diktes van wolke.

13. Uit die glans voor Hom het gloeiende kole gebrand.

14. Uit die hemel het die Here gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor.

15. En Hy het pyle uitgestuur en hulle verstrooi, bliksems en hulle verwar.

16. En die beddings van die see het sigbaar geword, die fondamente van die wêreld is blootgelê, deur die dreiging van die Here, vanweë die geblaas van die wind van sy neus.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 22