Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:20-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. Toe kyk Abner agter hom om en sê: Is dit jy, Ásahel? En hy antwoord: Dit is ek.

21. En Abner sê vir hom: Draai uit na jou regter- of linkerhand en gryp vir jou een van die jongmanne en neem sy uitrusting vir jou. Maar Ásahel wou nie agter hom wegdraai nie.

22. En Abner sê nog ’n keer vir Ásahel: Jy moet padgee agter my; waarom moet ek jou teen die grond slaan? Hoe sou ek dan my aangesig kan ophef voor jou broer Joab?

23. Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterent van die spies in die onderlyf, sodat die spies agter hom uitkom en hy daar neerval en op die plek sterwe. En almal het bly staan wat aankom by die plek waar Ásahel geval en gesterwe het.

24. Maar Joab en Abísai het Abner agternagejaag, en die son het ondergegaan toe hulle by die heuwel Amma kom wat teenoor Giag lê, aan die pad na die woestyn van Gíbeon.

25. En die kinders van Benjamin het agter Abner byeengekom en saam een skare geword, en hulle het gaan staan op die top van ’n sekere heuwel.

26. Toe roep Abner na Joab en sê: Moet die swaard dan vir ewig verteer? Weet jy nie dat dit oplaas bitter sal wees nie? En hoe lank sal jy nie aan die manskappe sê dat hulle moet omdraai agter hulle broers vandaan nie?

27. En Joab antwoord: So waar as God leef, waarlik, as jy nie gespreek het nie, sou die manskappe môre eers weggetrek het, elkeen agter sy broer vandaan.

28. Toe blaas Joab op die ramshoring, en al die manskappe het stilgestaan en Israel nie langer agternagejaag en nie verder meer geveg nie.

29. Daarop het Abner en sy manne daardie hele nag die Vlakte deurgegaan en deur die Jordaan getrek en deur die hele Bitron en in Mahanáim aangekom.

30. En Joab het omgedraai agter Abner weg en al die manskappe versamel. En van Dawid se dienaars is negentien man en Ásahel vermis.

31. Maar die dienaars van Dawid het van Benjamin, naamlik onder die manne van Abner, geslaan — driehonderd-en-sestig man het gesterwe.

32. En hulle het Ásahel opgetel en hom in die graf van sy vader, wat in Betlehem was, begrawe; en Joab en sy manne het die hele nag deur getrek, sodat dit vir hulle in Hebron lig geword het.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2