Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 2:15-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Toe het hulle opgestaan, en twaalf is vir Benjamin afgetel, naamlik vir Isbóset, die seun van Saul; en twaalf van die dienaars van Dawid.

16. Maar die een het die ander aan die hoof gegryp, en die een se swaard was in die sy van die ander, sodat hulle saam geval het; daarom noem hulle dié plek Veld van Swaardskerptes, wat by Gíbeon is.

17. En dieselfde dag het die geveg buitengewoon hewig geword, maar Abner en die manne van Israel is verslaan voor die dienaars van Dawid.

18. En daar was drie seuns van Serúja: Joab en Abísai en Ásahel; en Ásahel was lig op sy voete soos een van die gemsbokke wat in die veld is.

19. En Ásahel het Abner agternagejaag sonder om in sy koers regs of links agter Abner weg te draai.

20. Toe kyk Abner agter hom om en sê: Is dit jy, Ásahel? En hy antwoord: Dit is ek.

21. En Abner sê vir hom: Draai uit na jou regter- of linkerhand en gryp vir jou een van die jongmanne en neem sy uitrusting vir jou. Maar Ásahel wou nie agter hom wegdraai nie.

22. En Abner sê nog ’n keer vir Ásahel: Jy moet padgee agter my; waarom moet ek jou teen die grond slaan? Hoe sou ek dan my aangesig kan ophef voor jou broer Joab?

23. Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterent van die spies in die onderlyf, sodat die spies agter hom uitkom en hy daar neerval en op die plek sterwe. En almal het bly staan wat aankom by die plek waar Ásahel geval en gesterwe het.

24. Maar Joab en Abísai het Abner agternagejaag, en die son het ondergegaan toe hulle by die heuwel Amma kom wat teenoor Giag lê, aan die pad na die woestyn van Gíbeon.

25. En die kinders van Benjamin het agter Abner byeengekom en saam een skare geword, en hulle het gaan staan op die top van ’n sekere heuwel.

26. Toe roep Abner na Joab en sê: Moet die swaard dan vir ewig verteer? Weet jy nie dat dit oplaas bitter sal wees nie? En hoe lank sal jy nie aan die manskappe sê dat hulle moet omdraai agter hulle broers vandaan nie?

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 2