Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 17:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het Agitófel vir Absalom gesê: Laat ek tog twaalfduisend man uitsoek en my klaarmaak en Dawid vannag agternajaag,

2. dat ek hom kan oorval, terwyl hy moeg en slap van hande is, en hom verskrik; dan sal al die mense vlug wat by hom is, en ek sal net die koning neerslaan.

3. En ek sal die hele volk na u terugbring: die terugkeer van almal hang af van die man wat u soek; die hele volk sal tevrede wees.

4. En die woord was reg in die oë van Absalom en in die oë van al die oudstes van Israel.

5. Maar Absalom het gesê: Roep tog ook Húsai, die Arkiet, en laat ons ook hoor wat hy sê.

6. Toe Húsai by Absalom inkom, het Absalom met hom gespreek en gesê: So het Agitófel gespreek. Sal ons sy raad opvolg? So nie, spreek jy dan.

7. En Húsai sê vir Absalom: Die raad wat Agitófel hierdie keer gegee het, is nie goed nie.

8. Verder het Húsai gesê: U weet dat u vader en sy manne helde is en bitter van siel soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is in die veld; ook is u vader ’n krygsman, en hy sal nie by die volk vernag nie.

9. Kyk, nou het hy hom weggesteek in een van die kuile of in een van die ander plekke, en as daar al by die begin enkele onder hulle val en die mense dit hoor, sal hulle sê: Die manskappe wat Absalom volg, het ’n neerlaag gely!

10. Dan sal selfs hy wat ’n dapper man is, wat ’n hart het soos ’n leeu se hart, heeltemal versmelt; want die hele Israel weet dat u vader ’n held is, en dat dapper manne by hom is.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 17