Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 15:5-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom.

6. Op dié manier het Absalom met al die Israeliete gehandel wat vir regspraak na die koning kom, sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het.

7. En ná verloop van vier jaar het Absalom aan die koning gesê: Laat my tog gaan en my gelofte wat ek aan die Here gedoen het, in Hebron betaal;

8. want u dienaar het ’n gelofte gedoen toe ek in Gesur in Aram gewoon het, en gesê: As die Here my werklik in Jerusalem terugbring, sal ek die Here dien.

9. Toe sê die koning vir hom: Gaan in vrede! En hy het hom klaargemaak en na Hebron gegaan.

10. Verder het Absalom spioene uitgestuur onder al die stamme van Israel om te sê: As julle die geluid van die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom is koning in Hebron!

11. En uit Jerusalem het tweehonderd man met Absalom saamgetrek wat genooi was en in hulle onskuld gegaan het sonder dat hulle van die hele saak iets geweet het.

12. Absalom het ook, terwyl hy die slagoffers bring, Agitófel, die Giloniet, ’n raadgewer van Dawid, uit sy stad, uit Gilo, laat roep. So het dan die sameswering sterk geword en die mense aldeur meer by Absalom aangesluit.

13. Toe daar dan ’n boodskapper by Dawid kom en sê: Die hart van die manne van Israel is agter Absalom aan —

14. het Dawid aan al sy dienaars wat by hom in Jerusalem was, gesê: Maak klaar en laat ons vlug, want daar sal vir ons geen ontkoming wees voor Absalom uit nie! Maak gou om weg te kom, sodat hy ons nie miskien gou inhaal en onheil oor ons bring en die stad met die skerpte van die swaard verslaan nie.

15. En die dienaars van die koning sê vir die koning: Net soos my heer die koning verkies — hier is u dienaars!

16. En die koning het uitgegaan met sy hele huis agter hom aan, maar die koning het tien byvroue agter laat bly om die huis op te pas.

17. En toe die koning met al die mense agter hom aan uitgetrek het, het hulle bly staan by die verste huis,

18. onderwyl al sy dienaars langs hom verbytrek, ook al die Kreti en al die Pleti. Ook al die Gittiete, seshonderd man wat uit Gat agter hom aan gekom het, het voor die koning verbygetrek.

19. En die koning sê vir Íttai, die Gittiet: Waarvoor sou jy ook met ons saamgaan? Draai om en bly by die koning, want jy is ’n uitlander en ook ’n balling uit jou woonplek.

20. Jy het gister gekom, en vandag sou ek jou laat rondswerwe om met ons saam te trek terwyl ek wie weet waarheen gaan! Draai om, en bring jou broers terug. Mag guns en trou met jou wees!

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 15