Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 13:3-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Maar Amnon het ’n vriend gehad, met die naam van Jónadab, ’n seun van Dawid se broer Símea; en Jónadab was ’n baie skrander man.

4. En dié vra hom: Waarom lyk jy môre vir môre so bedruk, seun van die koning? Sal jy my dit nie te kenne gee nie? Toe sê Amnon vir hom: Ek is verlief op Tamar, die suster van my broer Absalom.

5. Toe sê Jónadab vir hom: Gaan lê op jou bed en hou jou siek. As jou vader dan kom om jou te sien, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog kom en my iets gee om te eet en die ete voor my oë klaarmaak, dat ek dit kan sien en uit haar hand eet.

6. En Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom om hom te sien, sê Amnon aan die koning: Laat my suster Tamar tog kom en voor my oë twee koekies maak, dat ek uit haar hand kan eet.

7. Daarop het Dawid na Tamar in die huis gestuur en gesê: Gaan tog in die huis van jou broer Amnon en maak vir hom ete klaar.

8. Toe gaan Tamar in die huis van haar broer Amnon terwyl hy daar lê, en sy het deeg geneem en geknie en koekies voor sy oë gemaak en die koekies gebak.

9. En sy het die pan geneem en dit voor hom omgekeer, maar hy het geweier om te eet. En Amnon het gesê: Laat almal van my weggaan! En almal het van hom weggegaan.

10. Toe sê Amnon aan Tamar: Bring die ete in die slaapkamer, dat ek uit jou hand kan eet. En Tamar het die koekies wat sy gemaak het, geneem en vir haar broer Amnon in die slaapkamer gebring.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 13