Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 11:10-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En daar is aan Dawid meegedeel en gesê: Uría het nie na sy huis afgegaan nie. Toe vra Dawid vir Uría: Kom jy nie van ’n reis af nie? Waarom gaan jy nie af na jou huis nie?

11. En Uría sê vir Dawid: Die ark en Israel en Juda bly in hutte, en my heer Joab en die dienaars van my heer is gelaer in die oop veld; sou ek dan in my huis ingaan om te eet en te drink en by my vrou te slaap? So waar as u leef en u siel leef, ek sal dit nie doen nie!

12. En Dawid sê vir Uría: Bly vandag ook hier; dan sal ek jou môre laat gaan. En Uría het dié dag in Jerusalem gebly.

13. Maar die volgende dag het Dawid hom genooi, en hy het voor sy aangesig geëet en gedrink, en hy het hom dronk gemaak. Toe gaan hy in die aand uit om op sy slaapplek by die dienaars van sy heer te gaan slaap; maar na sy huis het hy nie afgegaan nie.

14. En in die môre skrywe Dawid ’n brief aan Joab en stuur dit met Uría weg.

15. En hy het in die brief geskrywe en gesê: Sit Uría op die voorpunt van die hewigste geveg; trek julle dan agter hom terug, dat hy in die slag kan sneuwel.

16. So het Joab dan, terwyl hy die stad verken, Uría op ’n plek gesit waarvan hy geweet het dat daar dapper manne was.

17. En toe die manne van die stad uittrek en met Joab veg, het daar van die manskappe, van die dienaars van Dawid, geval, en Uría, die Hetiet, het ook gesterwe.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 11