Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 1:15-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Daarop roep Dawid een van die jongmanne en sê: Kom nader, val op hom aan! En dié het hom neergeslaan, dat hy gesterf het.

16. En Dawid het vir hom gesê: Jou bloed is op jou hoof, want jou mond getuig teen jou, omdat jy sê: Ek het die gesalfde van die Here gedood.

17. TOE het Dawid hierdie klaaglied aangehef oor Saul en oor sy seun Jónatan,

18. en hy het beveel om die kinders van Juda die Booglied te leer; kyk, dit is geskrywe in die Boek van die Opregte.

19. Die sieraad, o Israel — op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval!

20. Vertel dit nie in Gat, verkondig dit nie op die strate van Áskelon nie, sodat die dogters van die Filistyne hulle nie verheug, die dogters van die onbesnedenes nie jubel nie!

21. Berge van Gilbóa, mag op julle geen dou en geen reën en geen velde van offergawes wees nie! Want daar is die skild van die helde weggegooi, die skild van Saul, sonder dat dit met olie gesalf is.

22. Sonder die bloed van die gesneuweldes, sonder die vet van die helde het die boog van Jónatan nie agteruitgewyk en die swaard van Saul nie leeg teruggekeer nie.

23. Saul en Jónatan, die bemindes en lieflikes, is in hulle lewe en in hulle dood nie geskeie nie. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus.

24. Dogters van Israel, ween oor Saul, wat julle weelderig beklee het met skarlaken, wat goue versiersels aangebring het op julle gewaad.

25. Hoe het die helde geval diep in die geveg! Jónatan lê verslaan op jou hoogtes.

26. Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jónatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 1