Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 8:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die huis van die Here en sy huis gebou het,

2. het Salomo die stede opgebou wat Huram aan Salomo gegee het, en die kinders van Israel daar laat woon.

3. Daarna het Salomo na Hamat-Soba getrek en dit oorweldig.

4. En hy het Tadmor in die woestyn opgebou, en al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het.

5. Verder het hy Bet-Horon-Bo en Bet-Horon-Onder as vestingstede opgebou met mure, poorte en grendels.

6. Ook Báälat en al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en al die stede vir die strydwaens en die stede vir die perderuiters en alles wat Salomo graag wou gebou het in Jerusalem en in die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy.

7. Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, wat nie uit Israel was nie —

8. van hulle kinders wat ná hulle oorgebly het in die land, wat die kinders van Israel nie uitgeroei het nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe.

9. Maar van die kinders van Israel het Salomo geen slawe gemaak vir sy diens nie, maar hulle was krygsmanne en owerstes van sy beste vegsmanne en owerstes van sy strydwaens en sy perderuiters.

10. En dit was die hoofopsigters van koning Salomo, tweehonderd-en-vyftig wat oor die mense bevel gevoer het.

11. En Salomo het die dogter van Farao uit die stad van Dawid gebring na die huis wat hy vir haar gebou het; want hy het gesê: Geen vrou van my mag woon in die huis van Dawid, die koning van Israel, nie; want dit is heilig, omdat die ark van die Here daarin gekom het.

12. Toe het Salomo brandoffers aan die Here gebring op die altaar van die Here wat hy voor die voorportaal gebou het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 8