Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:32-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. Ja, ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie en uit ’n ver land kom om u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm ontwil, as hulle kom en na hierdie huis toe bid,

33. wil U dan hoor uit die hemel, uit u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.

34. As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyande op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,

35. wil dan uit die hemel hulle gebed hoor en hulle smeking, en aan hulle hul reg verskaf.

36. As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na ’n land, ver of naby,

37. en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van hulle gevangenskap en sê: Ons het gesondig, ons het verkeerd gehandel, en ons was goddeloos —

38. en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel in die land van hul gevangenskap, van die wat hulle weggevoer het, en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het, en van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,

39. wil dan uit die hemel, uit u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smekinge hoor en aan hulle hul reg verskaf en u volk vergewe wat hulle teen U gesondig het.

40. My God, mag u oë tog nou oop wees en u ore luister na die gebed van hierdie plek.

41. Staan dan nou op na u rusplek, Here God, U en die ark van u sterkte! Laat u priesters, Here God, met heil bekleed wees, en laat u gunsgenote hulle verheug in die goeie.

42. Here God, wys u gesalfde nie af nie; dink aan die gunsbewyse aan u kneg Dawid!

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6