Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:26-36 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig,

27. wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het.

28. As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of kaalvreters is, as sy vyande hom in sy land vol stede dit benoud maak, watter plaag of watter siekte ook al,

29. enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei —

30. wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van die mensekinders —

31. sodat hulle U kan vrees om te wandel in u weë al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

32. Ja, ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie en uit ’n ver land kom om u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm ontwil, as hulle kom en na hierdie huis toe bid,

33. wil U dan hoor uit die hemel, uit u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.

34. As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyande op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,

35. wil dan uit die hemel hulle gebed hoor en hulle smeking, en aan hulle hul reg verskaf.

36. As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na ’n land, ver of naby,

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6