Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6:18-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!

19. Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, Here my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg voor u aangesig bid;

20. sodat u oë oop mag wees dag en nag oor hierdie huis, oor die plek waar U van gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid.

21. Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan.

22. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom ’n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer,

23. wil U dan hoor uit die hemel en handel en aan u knegte reg verskaf deur die skuldige te vergelde en sy wandel op sy hoof te lê, en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid.

24. En as u volk Israel verslaan word voor ’n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul bekeer en u Naam bely en bid en smeek voor u aangesig in hierdie huis,

25. wil U dan hoor uit die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het.

26. As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig,

27. wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het.

28. As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of kaalvreters is, as sy vyande hom in sy land vol stede dit benoud maak, watter plaag of watter siekte ook al,

29. enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei —

30. wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van die mensekinders —

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 6