Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 36:9-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Agttien jaar was Jójagin oud toe hy koning geword het, en drie maande en tien dae het hy in Jerusalem geregeer; en hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.

10. By die wisseling van die jaar het koning Nebukadnésar gestuur en hom na Babel laat bring, saam met die kosbare voorwerpe van die huis van die Here, en sy broer Sedekía koning oor Juda en Jerusalem gemaak.

11. EEN-EN-TWINTIG jaar was Sedekía oud toe hy koning geword het, en elf jaar het hy in Jerusalem geregeer.

12. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here sy God; hy het hom nie verootmoedig nie voor Jeremia, die profeet, wat gespreek het uit die mond van die Here.

13. En hy het ook gerebelleer teen koning Nebukadnésar wat hom by God laat sweer het; maar hy was hardnekkig en het sy hart verhard, sodat hy hom nie tot die Here, die God van Israel, bekeer het nie.

14. Ook al die owerstes van die priesters en die volk het baie ontrou gehandel, volgens al die gruwels van die heidene, en die huis van die Here wat Hy in Jerusalem geheilig het, verontreinig.

15. En die Here, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad.

16. Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die Here teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie.

17. So het Hy dan die koning van die Chaldeërs teen hulle laat optrek, en dié het hulle jongmanne met die swaard in die huis van hulle heiligdom gedood en geen jongman of jongmeisie, oue of gryse, verskoon nie: Hy het alles in sy hand gegee.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 36