Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 29:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. JEHISKÍA het, vyf-en-twintig jaar oud, koning geword en negen-en-twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Abía, die dogter van Sagaría.

2. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy vader Dawid gedoen het.

3. Hý het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die Here oopgemaak en dit herstel,

4. en die priesters en die Leviete laat inkom en hulle versamel op die Oosplein

5. en vir hulle gesê: Luister na my, Leviete! Heilig julle nou, en heilig die huis van die Here, die God van julle vaders, en bring die onreinheid uit die heiligdom uit;

6. want ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here onse God, en hulle het Hom verlaat en hulle aangesig van die tabernakel van die Here afgewend en dit die rug toegekeer.

7. Ook het hulle die deure van die voorportaal toegesluit en die lampe doodgeblaas en geen reukwerk aan die brand gesteek en geen brandoffer in die heiligdom aan die God van Israel gebring nie.

8. Daarom het ’n toorn van die Here oor Juda en Jerusalem gekom, en Hy het hulle ’n skrikbeeld, ’n voorwerp van verbasing en van bespotting gemaak, soos julle met jul eie oë sien.

9. En kyk, hierom het ons vaders deur die swaard geval en is ons seuns en ons dogters en ons vroue in gevangenskap.

10. Nou is dit in my hart om ’n verbond te sluit met die Here, die God van Israel, dat sy toorngloed van ons afgewend kan word.

11. My seuns, wees nou nie nalatig nie, want die Here het julle verkies om voor sy aangesig te staan, om Hom te dien en sy dienaars te wees en offerrook te laat opgaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 29