Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 24:14-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En toe hulle klaar was, het hulle die orige geld voor die koning en Jójada gebring, en hy het daarvan gereedskap laat maak vir die huis van die Here, diens- en offergereedskap en rookpanne en goue en silwervoorwerpe; en hulle was gedurigdeur besig om brandoffers te bring in die huis van die Here al die dae van Jójada.

15. En Jójada het oud geword en was afgeleef en het gesterwe; hy was honderd-en-dertig jaar oud toe hy gesterf het.

16. En hy is begrawe in die stad van Dawid by die konings; want hy het goed gedoen in Israel teenoor God sowel as teenoor sy huis.

17. Maar ná die dood van Jójada kom die owerstes van Juda en buig hulle voor die koning neer. Toe het die koning na hulle geluister,

18. en hulle het die huis van die Here, die God van hulle vaders, verlaat en het die heilige boomstamme en die afgode gedien. Toe kom daar ’n toorn oor Juda en Jerusalem weens hierdie skuld van hulle.

19. En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die Here terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie.

20. Toe het die Gees van God Sagaría, die seun van die priester Jójada, vervul, en dié het voor die volk gaan staan en aan hulle gesê: So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die Here en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die Here verlaat het, het Hy julle verlaat.

21. Daarop smee hulle ’n sameswering teen hom en stenig hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die Here.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 24