Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 24:1-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. JOAS was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Sibja, uit Berséba.

2. En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die Here, al die dae van die priester Jójada.

3. En Jójada het vir hom twee vroue geneem, en hy het die vader geword van seuns en dogters.

4. En daarna het Joas hom voorgeneem om die huis van die Here te herstel.

5. Daarom het hy die priesters en die Leviete versamel en aan hulle gesê: Gaan uit na die stede van Juda en versamel geld uit die hele Israel om van jaar tot jaar die huis van julle God te herstel; en júlle moet gou maak met die saak! Maar die Leviete het nie gou gemaak nie.

6. Toe roep die koning die hoofpriester Jójada en sê vir hom: Waarom het jy nie gesorg dat die Leviete uit Juda en uit Jerusalem die belasting van Moses, die kneg van die Here, en van die vergadering van Israel vir die tent van die Getuienis inbring nie?

7. Want die goddelose Atália — haar seuns het in die huis van God ingebreek en selfs al die heilige gawes van die huis van die Here vir die Baäls gebruik.

8. Op bevel van die koning maak hulle toe ’n kis en sit dit buitekant by die poort van die huis van die Here neer.

9. En hulle het uitgeroep in Juda en in Jerusalem om aan die Here die belasting wat Moses, die kneg van God, op Israel in die woestyn gelê het, te bring.

10. Toe was al die owerstes en die hele volk bly, en hulle het dit ingebring en in die kis gegooi totdat hulle klaar was.

11. En elke keer as hulle die kis deur die diens van die Leviete by die wag van die koning bring en hulle sien dat die geld baie is, kom die skrywer van die koning en die opsigter van die hoofpriester en hulle maak die kis leeg en bring dit weer na sy plek terug; so het hulle van dag tot dag gedoen en geld in menigte versamel.

12. En die koning en Jójada het dit aan die uitvoerders van die werk aan die huis van die Here gegee, en dié het klipkappers en skrynwerkers gehuur om die huis van die Here te herstel, en ook yster- en kopersmede om die huis van die Here te verbeter.

13. En die uitvoerders van die werk was ywerig besig, sodat die herstellingswerk deur hulle hand gevorder het, en hulle het die huis van God herstel volgens sy oorspronklike bouplan en dit reggemaak.

14. En toe hulle klaar was, het hulle die orige geld voor die koning en Jójada gebring, en hy het daarvan gereedskap laat maak vir die huis van die Here, diens- en offergereedskap en rookpanne en goue en silwervoorwerpe; en hulle was gedurigdeur besig om brandoffers te bring in die huis van die Here al die dae van Jójada.

15. En Jójada het oud geword en was afgeleef en het gesterwe; hy was honderd-en-dertig jaar oud toe hy gesterf het.

16. En hy is begrawe in die stad van Dawid by die konings; want hy het goed gedoen in Israel teenoor God sowel as teenoor sy huis.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 24