Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 21:4-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Maar toe Joram die koningskap van sy vader aanvaar het en homself versterk het, het hy al sy broers met die swaard vermoor en ook sommige van die owerstes van Israel.

5. Twee-en-dertig jaar was Joram oud toe hy koning geword het, en hy was agt jaar lank koning in Jerusalem.

6. En hy het in die weg van die konings van Israel gewandel soos die huis van Agab gedoen het, want hy het die dogter van Agab as vrou gehad en het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.

7. Maar die Here wou die huis van Dawid nie vernietig nie ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gesluit het, en volgens sy belofte om vir hom en sy seuns altyd ’n lamp te gee.

8. In sy dae het die Edomiete van Juda afvallig geword en ’n koning oor hulle aangestel.

9. Daarom het Joram oorgetrek saam met sy owerstes en al sy strydwaens; en toe hy hom in die nag klaargemaak het, het hy die Edomiete verslaan wat rondom hom was, en om die owerstes van die waens.

10. So het die Edomiete dan van Juda afvallig geword, tot vandag toe; in dieselfde tyd het Libna afvallig geword onder sy mag uit, want hy het die Here, die God van sy vaders, verlaat.

11. Hy het ook hoogtes op die berge van Juda gemaak en die inwoners van Jerusalem laat hoereer en Juda verlei.

12. Toe kom daar ’n brief van die profeet Elía by hom aan om te sê: So spreek die Here, die God van u vader Dawid: Omdat u in die weë van u vader Jósafat en in die weë van Asa, die koning van Juda, nie gewandel het nie,

13. maar gewandel het in die weg van die konings van Israel en Juda, en die inwoners van Jerusalem laat hoereer het volgens die hoererye van die huis van Agab, en selfs u broers, die huis van u vader, vermoor het, wat beter was as u —

14. kyk, die Here sal ’n groot plaag stuur onder u volk en onder u seuns en onder u vroue en onder al u goed,

15. en u self sal aan baie siektes ly, aan ’n siekte van u ingewande, totdat u ingewande vanweë die siekte uitkom, jare lank.

16. Toe verwek die Here teen Joram die gees van die Filistyne en van die Arabiere wat langsaan die Kusiete is —

17. hulle het teen Juda opgetrek en dit verower en al die goed weggevoer wat in die huis van die koning te vinde was, selfs ook sy seuns en sy vroue, sodat daar vir hom geen seun oorgebly het nie, behalwe Jóahas, die jongste van sy seuns.

18. En ná dit alles het die Here hom in sy ingewande aangetas met ’n siekte waar geen genesing voor was nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 21