Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 17:8-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. en saam met hulle die Leviete Semája en Netánja en Sebádja en Ásahel en Semíramot en Jónatan en Adónia en Tobía en Tob-Adónia, die Leviete; en saam met hulle die priesters Elisáma en Joram.

9. En hulle het in Juda onderrig gegee met die wetboek van die Here by hulle, en in al die stede van Juda rondgegaan en onder die volk onderrig gegee.

10. En ’n skrik vir die Here het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie.

11. En van die Filistyne het vir Jósafat geskenke en ’n vrag silwer gebring; selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: seweduisend-sewehonderd ramme en seweduisend-sewehonderd bokke.

12. So het Jósafat dan aldeur groter geword, buitengewoon groot, en in Juda forte en voorraadstede gebou.

13. En hy het groot voorrade in die stede van Juda gehad, en krygsmanne, dapper helde, in Jerusalem.

14. En dit was hulle getal volgens hulle families: Van Juda was owerstes oor duisend: die owerste Adna en saam met hom driehonderdduisend dapper helde;

15. en naas hom was die owerste Jóhanan en saam met hom tweehonderd-en-tagtigduisend;

16. en naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig getoon het vir die Here, en saam met hom tweehonderdduisend dapper helde;

17. en uit Benjamin was Éljada, ’n dapper held, en saam met hom tweehonderdduisend, gewapen met boog en skild;

18. en naas hom was Jósabad en saam met hom honderd-en-tagtigduisend, vir kommando gewapen.

19. Hulle was in die diens van die koning, behalwe die wat die koning in die versterkte stede deur die hele Juda geplaas het.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 17