Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 12:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe Rehábeam die koningskap bevestig het en hy sterk was, het hy die wet van die Here verlaat, en die hele Israel saam met hom.

2. Toe het Sisak, die koning van Egipte, in die vyfde jaar van koning Rehábeam, teen Jerusalem opgetrek — omdat hulle ontrou teenoor die Here gehandel het —

3. met twaalfhonderd strydwaens en sestigduisend perderuiters; en ontelbaar was die manskappe wat saam met hom uit Egipte gekom het: Líbiërs, Sukkiete en Kusiete.

4. En hy het die versterkte stede ingeneem wat aan Juda behoort het, en tot by Jerusalem gekom.

5. Daarop kom die profeet Semája na Rehábeam en die owerstes van Juda wat vanweë Sisak in Jerusalem bymekaargekom het, en sê vir hulle: So spreek die Here: Júlle het My verlaat; daarom gee Ék julle ook oor in die hand van Sisak.

6. Hierop het die owerstes van Israel en die koning hulle verootmoedig en gesê: Die Here is regverdig.

7. En toe die Here sien dat hulle hul verootmoedig, kom die woord van die Here tot Semája en sê: Hulle het hul verootmoedig: Ek sal hulle nie vernietig nie, maar hulle binnekort uitkoms skenk, en my grimmigheid sal nie deur middel van Sisak oor Jerusalem uitgestort word nie.

8. Maar hulle sal sy knegte word, sodat hulle my diens en die diens van die koninkryke van die lande kan leer ken!

9. En Sisak, die koning van Egipte, het teen Jerusalem opgetrek en die skatte van die huis van die Here en die skatte van die huis van die koning weggeneem; hy het alles weggeneem; hy het ook die goue skilde wat Salomo gemaak het, weggeneem.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 12