Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 8:16-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. EN in die vyfde jaar van Joram, die seun van Agab, die koning van Israel, terwyl Jósafat koning was van Juda, het Jehóram, die seun van Jósafat, die koning van Juda, koning geword.

17. Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy was agt jaar lank koning in Jerusalem.

18. En hy het gewandel in die weg van die konings van Israel, soos die huis van Agab gedoen het; want hy het die dogter van Agab as vrou gehad en het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.

19. Maar die Here wou Juda nie vernietig nie ter wille van Dawid, sy kneg, volgens sy belofte aan hom dat Hy hom altyd ’n lamp vir sy seuns sou gee.

20. In sy dae het die Edomiete van Juda afvallig geword en ’n koning oor hulle aangestel.

21. Daarom het Joram oorgetrek na Saïr, en al die strydwaens saam met hom; en toe hy hom in die nag gereedgemaak het, het hy die Edomiete verslaan wat hom omsingel het, saam met die owerstes van die strydwaens; en die manskappe het na hulle tente gevlug.

22. So het die Edomiete dan van Juda afvallig geword tot vandag toe; in dieselfde tyd het Libna afvallig geword.

23. En die verdere geskiedenis van Joram en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

24. En Joram het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van Dawid; en sy seun Ahásia het in sy plek koning geword.

25. In die twaalfde jaar van Joram, die seun van Agab, die koning van Israel, het Ahásia, die seun van Jehóram, die koning van Juda, koning geword.

26. Twee-en-twintig jaar was Ahásia oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Atália, die dogter van Omri, die koning van Israel.

27. En hy het gewandel in die weg van die huis van Agab en gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, soos die huis van Agab; want hy was verswaer met die huis van Agab.

28. En hy het met Joram, die seun van Agab, in die oorlog saamgetrek by Ramot in Gílead teen Hásael, die koning van Aram; maar die Arameërs het Joram gewond.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 8