Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 4:2-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Toe sê Elísa vir haar: Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het. En sy antwoord: U dienares het glad niks in die huis nie, behalwe ’n flessie met olie.

3. En hy sê: Gaan leen vir jou van buite af kanne, leë kanne van al jou bure; leen nie te min nie.

4. Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe, en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is.

5. Sy het toe van hom af weggegaan en die deur agter haar en haar seuns toegesluit; en terwyl hulle vir haar aanbring, giet sy in.

6. Sodra die kanne vol was, sê sy aan haar seun: Bring vir my nog ’n kan aan; maar hy antwoord haar: Daar is geen kan meer nie. Toe gaan die olie staan.

7. Daarop kom sy om dit die man van God te kenne te gee; en hy sê: Gaan verkoop die olie en betaal jou skulde; van die orige kan jy en jou seuns dan lewe.

8. En op ’n dag het Elísa verbygegaan na Sunem; en daar was ’n vermoënde vrou wat by hom aangehou het dat hy brood sou eet. En so dikwels as hy verbygaan, het hy daarheen weggedraai om brood te eet.

9. En sy het aan haar man gesê: Kyk tog, ek merk dat dit ’n heilige man van God is wat gedurig by ons verbygaan;

10. laat ons tog ’n klein ommuurde bo-kamer maak, en laat ons daar vir hom ’n bed en ’n tafel en ’n stoel en ’n lamp neersit; wanneer hy dan by ons kom, kan hy daar intrek.

11. En toe hy op ’n dag daar kom, het hy in die bo-kamer ingetrek en daar gaan lê

12. en aan sy dienaar Gehási gesê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy voor hom gaan staan het,

13. sê hy vir hom: Vra haar tog: Kyk, jy het al hierdie sorg aan ons bestee; wat kan daar vir jou gedoen word? Kan daar vir jou ’n goeie woord gedoen word by die koning of die leërowerste? Maar sy antwoord: Ek woon onder my volk.

14. Daarop sê hy: Wat kan daar dan vir haar gedoen word? En Gehási antwoord: Voorwaar, sy het geen seun nie, en haar man is oud.

15. En hy sê: Roep haar. En toe hy haar geroep en sy in die deur gaan staan het,

16. sê hy: Sulke tyd oor ’n jaar sal jy ’n seun omhels. En sy antwoord: Ag nee, my heer, man van God, moenie vir u dienares lieg nie!

17. En die vrou het swanger geword en ’n seun gebaar op daardie tyd oor ’n jaar, soos Elísa met haar gespreek het.

18. Maar toe die kind groot was, het hy op ’n dag uitgegaan na sy vader, na die maaiers,

19. en vir sy vader gesê: My kop, my kop! Dié sê toe vir ’n dienaar: Dra hom na sy moeder.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 4