Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 25:17-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Die hoogte van een pilaar was agttien el, en ’n kapiteel van koper was daarop, en die hoogte van die kapiteel was drie el; met vlegwerk en granaatjies op die kapiteel rondom, alles van koper; en net so aan die tweede pilaar, met die vlegwerk.

18. Verder het die owerste van die lyfwag Serája, die hoofpriester, geneem en Sefánja, die tweede priester, en die drie drumpelwagters.

19. En uit die stad het hy geneem een hofdienaar wat oor die krygsmanne aangestel was, en vyf man uit die wat die koning se aangesig gesien het, wat in die stad aanwesig was, en die skrywer van die leërowerste wat die mense van die land vir krygsdiens oproep, en sestig man van die mense van die land wat in die stad aanwesig was.

20. Toe Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, hulle neem, het hy hulle na die koning van Babel, na Ribla gebring.

21. En die koning van Babel het hulle neergeslaan en hulle gedood in Ribla, in die land Hamat. En Juda is uit sy land in ballingskap weggevoer.

22. En wat die mense betref wat in die land Juda oorgebly het, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, laat agterbly het, oor hulle het hy Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, aangestel.

23. En toe al die owerstes van die leërs, hulle en die manne, hoor dat die koning van Babel Gedálja aangestel het, kom hulle na Gedálja, na Mispa, naamlik: Ismael, die seun van Netánja, en Jóhanan, die seun van Karéag, en Serája, die seun van Tánhumet, die Netofatiet, en Jaäsánja, die seun van die Maägatiet, hulle met hul manne.

24. En Gedálja het vir hulle en hul manne gesweer en aan hulle gesê: Wees nie bevrees vir die dienaars van die Chaldeërs nie, bly in die land en dien die koning van Babel; dan sal dit met julle goed gaan.

25. Maar in die sewende maand het Ismael, die seun van Netánja, die seun van Elisáma, uit die koninklike geslag, gekom en tien manne saam met hom en Gedálja doodgeslaan, ook die Jode en die Chaldeërs wat saam met hom in Mispa was.

26. Toe het die hele volk, klein en groot, hulle gereedgemaak, saam met die owerstes van die leërs, en na Egipte gegaan, want hulle was bevrees vir die Chaldeërs.

27. En in die sewen-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jójagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die sewen-en-twintigste van die maand, het Evil-Meródag, die koning van Babel, in die jaar van sy troonsbestyging, Jójagin, die koning van Juda, uit die gevangenis verhef.

28. En hy het vriendelik met hom gespreek en sy stoel gesit bokant die stoel van die konings wat by hom in Babel was.

29. En hy het sy gevangenisklere verwissel; en hy het gedurigdeur brood voor sy aangesig geëet, al die dae van sy lewe.

30. En aangaande sy lewensonderhoud, ’n vaste lewensonderhoud is hom toegestaan deur die koning na die eis van elke dag, al die dae van sy lewe.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 25