Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 24:7-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En die koning van Egipte het nie verder meer uit sy land uitgetrek nie, want die koning van Babel het van die spruit van Egipte af tot by die Eufraatrivier alles geneem wat aan die koning van Egipte behoort het.

8. Agttien jaar was Jójagin oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Nehústa, ’n dogter van Élnatan, van Jerusalem.

9. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here net soos sy vader gedoen het.

10. IN dié tyd het die dienaars van Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem opgetrek en die stad is beleër.

11. En toe Nebukadnésar, die koning van Babel, by die stad kom, terwyl sy dienaars dit beleër,

12. het Jójagin, die koning van Juda, uitgegaan na die koning van Babel, hy en sy moeder en sy dienaars en sy owerstes en sy hofdienaars, en die koning van Babel het hom gevange geneem in die agtste jaar van sy regering.

13. En hy het daarvandaan uitgebring al die skatte van die huis van die Here en die skatte van die huis van die koning en al die goud van die voorwerpe afgesny wat Salomo, die koning van Israel, gemaak het in die tempel van die Here, soos die Here gespreek het.

14. En hy het die hele Jerusalem weggevoer en al die owerstes en al die mense van vermoë, tienduisend ballinge, en al die smede en die slotmakers; niemand het oorgebly nie, behalwe die arm mense van die land.

15. En hy het Jójagin in ballingskap weggevoer na Babel, en ook die moeder van die koning en die vroue van die koning en sy hofdienaars; ook die magtiges van die land het hy in ballingskap uit Jerusalem na Babel laat gaan.

16. En al die mense van vermoë, seweduisend, en die smede en die slotmakers, duisend, almal helde wat oorlog kan voer — dié het die koning van Babel in ballingskap na Babel gebring.

17. EN die koning van Babel het Mattánja, die oom van Jójagin, in sy plek koning gemaak en sy naam verander in Sedekía.

18. Een-en-twintig jaar was Sedekía oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Hamútal, ’n dogter van Jeremia, uit Libna.

19. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here net soos Jójakim gedoen het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 24