Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 21:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. MANASSE was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-vyftig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Hefsíba.

2. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, volgens die gruwels van die nasies wat die Here voor die kinders van Israel uit verdrywe het.

3. En hy het die hoogtes weer gebou wat sy vader Hiskía verniel het, en altare opgerig vir Baäl en ’n heilige boomstam gemaak, soos Agab, die koning van Israel, gemaak het, en hom gebuig voor die hele leër van die hemel en hulle gedien;

4. ook het hy altare gebou in die huis van die Here, waarvan die Here gesê het: In Jerusalem sal Ek my Naam vestig.

5. En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in altwee die voorhowe van die huis van die Here;

6. ook sy seun deur die vuur laat deurgaan en met goëlery en verklarings van voortekens omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here om Hom te terg.

7. Hy het ook ’n gesnede beeld van Asjéra wat deur hom gemaak is, in die tempel gesit, waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek verkies het uit al die stamme van Israel, sal Ek vir ewig my Naam vestig.

8. En Ek sal die voet van Israel nie meer laat rondswerwe uit die land wat Ek aan hulle vaders gegee het nie, as hulle net sorgvuldig handel volgens alles wat Ek hulle beveel het, en volgens die hele wet wat my kneg Moses hulle beveel het.

9. Maar hulle het nie geluister nie; en Manasse het hulle verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die Here voor die kinders van Israel uit verdelg het.

10. Toe het die Here deur die diens van sy knegte, die profete, gespreek en gesê:

11. Omdat Manasse, die koning van Juda, hierdie gruwels gedoen het — erger as alles wat die Amoriete gedoen het wat voor hom was, en selfs Juda laat sondig het deur sy drekgode —

12. daarom, so sê die Here, die God van Israel: Kyk, Ek sal ’n onheil oor Jerusalem en Juda bring, waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 21