Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 19:1-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe koning Hiskía dit hoor, het hy sy klere geskeur en hom met ’n roukleed bedek en in die huis van die Here gegaan.

2. Daarna stuur hy Éljakim wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na die profeet Jesaja, die seun van Amos.

3. En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is ’n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het gekom tot by die geboorte, maar daar is geen krag om te baar nie.

4. Miskien sal die Here u God al die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom straf oor die woorde wat die Here u God gehoor het; hef dan ’n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is.

5. En toe die dienaars van koning Hiskía by Jesaja kom,

6. sê Jesaja vir hulle: So moet julle jul heer antwoord: So spreek die Here: Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie.

7. Kyk, Ek sal ’n gees in hom gee, dat hy ’n gerug hoor en na sy land terugtrek, en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val.

8. Daarop het die rábsake teruggegaan en die koning van Assirië aangetref terwyl hy besig was om te veg teen Libna; want hy het gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het.

9. En toe hy van Tirháka, die koning van Kus, hoor sê: Kyk, hy het uitgetrek om teen u te veg — stuur hy weer boodskappers na Hiskía met die opdrag:

10. So moet julle aan Hiskía, die koning van Juda, sê: Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.

11. Kyk, u het self gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen het deur dit met die banvloek te tref, en sou u gered word?

12. Het die gode van die nasies wat my vaders uitgeroei het, hulle gered — Gosan en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Telássar was?

13. Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarváim, van Hena en Iwa?

14. En toe Hiskía die brief uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die Here; en Hiskía het dit voor die aangesig van die Here uitgesprei.

15. En Hiskía het voor die aangesig van die Here gebid en gesê: Here, God van Israel, wat op die gérubs troon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, Ú het die hemel en die aarde gemaak!

16. o Here, neig u oor en luister. Open u oë, Here, en kyk; en hoor die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad!

17. Waarlik, Here, die konings van Assirië het die nasies en hulle land verwoes

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 19