Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 18:26-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

26. Toe sê Éljakim, die seun van Hilkía, en Sebna en Joa aan die rábsake: Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie.

27. Maar die rábsake sê vir hulle: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om hierdie woorde te spreek? Is dit nie na die manne wat op die muur sit, dat hulle hul eie drek kan eet en hul eie water kan drink saam met julle nie?

28. Toe gaan die rábsake staan en roep hardop in die Joodse taal; en hy spreek en sê: Hoor die woord van die groot koning, die koning van Assirië!

29. So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie uit sy hand kan red nie.

30. En Hiskía moet julle nie op die Here laat vertrou nie deur te sê: Die Here sal ons sekerlik red, en hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.

31. Luister nie na Hiskía nie; want so sê die koning van Assirië: Sluit met my vriendskap en trek uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink elkeen die water van sy put,

32. totdat ek julle kom haal na ’n land soos julle land, ’n land van koring en mos, ’n land van brood en wingerde, ’n land van olyfbome en heuning; dan sal julle lewe en nie sterwe nie; en luister nie na Hiskía nie, want hy verlei julle deur te sê: Die Here sal ons red.

33. Het die gode van die nasies elkeen sy land ooit gered uit die hand van die koning van Assirië?

34. Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarváim, Hena en Iwa, dat hulle Samaría uit my hand kon gered het?

35. Wie is daar onder al die gode van die lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die Here Jerusalem uit my hand sou red?

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 18