Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. IN die twaalfde jaar van Agas, die koning van Juda, het Hoséa, die seun van Ela, in Samaría oor Israel koning geword — nege jaar lank.

2. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, maar nie soos die konings van Israel wat voor hom was nie.

3. Teen hom het Salmanéser, die koning van Assirië, opgetrek, en Hoséa het sy dienaar geword en aan hom belasting betaal.

4. Maar die koning van Assirië het by Hoséa ’n sameswering ontdek, dat hy boodskappers gestuur het na So, die koning van Egipte, en nie aan die koning van Assirië belasting betaal het soos jaar vir jaar nie; daarom het die koning van Assirië hom opgesluit en hom in die gevangenis laat bind.

5. En die koning van Assirië het opgetrek deur die hele land en opgetrek na Samaría en dit drie jaar lank beleër.

6. In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.

7. Want die kinders van Israel het gesondig teen die Here hulle God wat hulle uit Egipteland onder die hand van Farao uit, die koning van Egipte, laat optrek het; en hulle het ander gode gevrees

8. en gewandel volgens die insettinge van die nasies wat die Here voor die kinders van Israel uit verdryf het, en van die konings van Israel wat dit bewerk het.

9. En die kinders van Israel het heimlik volbring wat nie reg was teenoor die Here hulle God nie; en hulle het vir hul hoogtes gebou in al hulle stede, van wagtoring af tot versterkte stad.

10. En hulle het vir hul klippilare en heilige boomstamme opgerig op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.

11. En hulle het daar offerrook laat opgaan, op al die hoogtes, soos die nasies wat die Here voor hulle uit weggevoer het, en verkeerde dinge gedoen om die Here te terg.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17