Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 16:8-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Tegelykertyd neem Agas die silwer en die goud wat te vinde was in die huis van die Here en in die skatkamers van die huis van die koning en stuur dit as ’n geskenk aan die koning van Assirië.

9. En die koning van Assirië het na hom geluister, en die koning van Assirië het teen Damaskus opgetrek en dit verower en hulle in ballingskap weggevoer na Kir en Resin gedood.

10. Toe trek koning Agas Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, tegemoet na Damaskus; en nadat hy die altaar gesien het wat in Damaskus was, stuur koning Agas aan die priester Uría ’n tekening en afbeelding van die altaar volgens die hele inrigting daarvan.

11. En die priester Uría het die altaar gebou — geheel en al volgens opdrag van koning Agas uit Damaskus, so het die priester Uría gedoen voor die koms van koning Agas uit Damaskus.

12. En toe die koning van Damaskus af kom en die koning die altaar sien, het die koning nader gekom na die altaar en daarop geklim.

13. En hy het sy brandoffer en sy spysoffer aan die brand gesteek en sy drankoffer uitgegiet en die bloed van sy eie dankoffers teen die altaar uitgegooi.

14. Maar die koperaltaar wat voor die aangesig van die Here was, het hy van die voorkant van die huis gebring, tussen sy altaar en die huis van die Here uit, en dit aan die noordekant van sy altaar gesit.

15. En koning Agas het hom, die priester Uría, bevel gegee en gesê: Steek op die groot altaar aan die brand die môrebrandoffer en die aandspysoffer en die koning se brandoffer en sy spysoffer en die brandoffer van die hele volk van die land en hulle spysoffer en hulle drankoffers; en gooi al die bloed van brandoffers en al die bloed van slagoffers daarteen uit; maar die koperaltaar sal vir my wees om verder te oorweeg.

16. En die priester Uría het gedoen net soos koning Agas beveel het.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 16