Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:5-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En die Here het die koning aangetas, sodat hy melaats was tot die dag van sy dood toe; en hy het in ’n afgesonderde huis gewoon, terwyl Jotam, die seun van die koning, oor die paleis was en reg gespreek het oor die volk van die land.

6. En die verdere geskiedenis van Asárja en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

7. En Asárja het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid; en sy seun Jotam het in sy plek koning geword.

8. IN die agt-en-dertigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Sagaría, die seun van Jeróbeam, oor Israel koning geword in Samaría — ses maande lank.

9. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here soos sy vaders gedoen het; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.

10. En Sallum, die seun van Jabes, het ’n sameswering teen hom gesmee en hom voor die oë van die volk verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.

11. En die verdere geskiedenis van Sagaría, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

12. Dit was die woord van die Here wat Hy tot Jehu gespreek het, naamlik: Seuns van die vierde geslag sal vir jou op die troon van Israel sit. En dit was so.

13. Sallum, die seun van Jabes, het in die negen-en-dertigste jaar van Ussía, die koning van Juda, koning geword en ’n maand lank in Samaría geregeer.

14. Daarna het Menáhem, die seun van Gadi, van Tirsa opgetrek en in Samaría gekom en Sallum, die seun van Jabes, in Samaría verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.

15. En die verdere geskiedenis van Sallum en sy sameswering wat hy gesmee het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.

16. Toe het Menáhem Tifsag verslaan met almal wat daarin was, en die grondgebied daarvan, van Tirsa af; omdat hulle nie vir hom oopgemaak het nie; hy het dit verslaan en al die swanger vroue daarvan laat oopsny.

17. In die negen-en-dertigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Menáhem, die seun van Gadi, koning oor Israel geword in Samaría — tien jaar lank.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15