Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 12:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. IN die sewende jaar van Jehu het Joas koning geword, en hy het veertig jaar geregeer in Jerusalem; en die naam van sy moeder was Sibja, van Berséba.

2. En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die Here, al sy dae waarin die priester Jójada hom onderrig het.

3. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog geoffer en op die hoogtes rook laat opgaan.

4. En Joas het aan die priesters gesê: Al die geld wat as heilige gawes in die huis van die Here gebring word, gangbare geld, elkeen se personegeld waarvoor hy geskat is, en al die geld wat iemand vrywillig in die huis van die Here bring,

5. mag die priesters vir hulle neem, elkeen van sy bekende, en húlle moet die bouvallige plekke van die huis herstel waar ’n bouvallige plek ook al gevind word.

6. Maar toe in die drie-en-twintigste jaar van koning Joas die priesters die bouvallige plekke van die huis nie herstel het nie,

7. het koning Joas Jójada, die priester, en die priesters geroep en aan hulle gesê: Waarom herstel julle nie die bouvallige plekke van die huis nie? Nou dan, julle moet geen geld van julle bekendes aanneem nie, maar dit gee vir die bouvallige plekke van die huis.

8. En die priesters het ingewillig om geen geld van die volk aan te neem nie en om die bouvallige plekke van die huis dan ook nie te herstel nie.

9. Toe neem die priester Jójada ’n kis en boor ’n opening in sy deksel en sit dit langs die altaar neer aan die regterkant as ’n mens in die huis van die Here inkom; en die priesters wat die drumpel bewaak, het al die geld wat in die huis van die Here ingebring is, daarin gegooi.

10. En toe hulle sien dat daar baie geld in die kis was, het die skrywer van die koning opgegaan en die hoëpriester en dit saamgebind en die geld getel wat in die huis van die Here gevind is.

11. En hulle het die afgetelde geld oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat oor die huis van die Here aangestel was, en hulle het dit uitbetaal aan die skrynwerkers en die bouers wat aan die huis van die Here gewerk het,

12. en aan die messelaars en aan die klipkappers, en om houte en gekapte klippe te koop om die bouvallige plekke van die huis van die Here te herstel, ja, vir alles wat uitgegee moes word aan die huis om dit te herstel.

13. Ewenwel is daar in die huis van die Here geen silwerskottels, messe, komme, trompette — enige goue gereedskap of silwergereedskap gemaak van die geld wat in die huis van die Here gebring is nie.

14. Maar hulle het dit aan die uitvoerders van die werk gegee om daarmee die huis van die Here te herstel.

15. En hulle het nie met die manne afgereken in wie se hand die geld toevertrou was om dit aan die uitvoerders van die werk te gee nie, want hulle het met getrouheid gehandel.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 12